Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 29 JULIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike amateurradiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio, gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan afgelaai word by www.sarl.org.za en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vandag is (Naam en roepsein), op 145,725 MHz FM vanuit Pretoria, met herleidings op (7 066 en 3 695 kHz ESB). (Ander nuuslesers verander soos nodig)

In die nuus vandag:

SONAKTIWITEITSVLAKPIEK VOLGENDE JAAR VOORSPEL
UITSENDING DEUR NASA RUIMTEVAARDER VANAF DIE RUIMTE
DIE ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIEWYSIGINGSKRIF – HOE GAAN DIT RADIOAMATEURS RAAK?
BESPREEK NOU VIR DIE RTA IN GAUTENG OP 18 AUGUSTUS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SONAKTIWITEITSVLAK PIEK VOLGENDE JAAR VOORSPEL

Voorspellers beweer dat die sonaktiwiteitsvlak sy piek gedurende 2013 sal bereik. Wanneer dit aankom, sal daar meer sonuitbarstings, meer koronamassa-uitwerping, meer geomagnetiese storms en meer auroras wees as wat in ’n baie lang tyd ondervind is. Gedurende die naweek van 14 Julie 2012 het kykers ’n voorsmakie gehad van wat gaan plaasvind.

Dit was vroeg Saterdagaand toe ’n koronamassauitbarsting met die aarde se magnetiese veld gebots het en ’n langsdurende vertoning van Aurora tot gevolg gehad het. Vir meer as 36 uur het magnetiese storms om die aarde se pole gewentel. Noorderligte het oor die Kanadese grens geskyn tot in die Verenigde State en so vêr Suid as Kalifornië, Colorado, Kansas en Arkansas. In die Suidelike halfrond het die lug rooi geskyn oor Tasmanië en Nu Seeland, terwyl die aurora australis om die Suidpool gewentel het.

Die oorsprong van die KMU was die reuse sonvlek AR1520, ’n kokende pot van magnetisme meer as 15 maal wyer as die aarde. Op die 12de Julie het die sonvlek se magnetiese veld uitgebars en ’n X-klas sonfakkel geproduseer wat ’n biljoen ton geëlektrifiseerde plasma na die aarde uitgewerp het.

Om meer te leer van wat op op die son plaasvind en hoe dit HF-voortplanting beïnvloed, moet U die RTA op 18 Augustus by die NARS bywoon.

UITSENDING DEUR NASA RUIMTEVAARDER VANAF DIE RUIMTE

NASA=ruimtevaarder Joe Acaba sal ’n tweeuur lange radiouitsending aanbied op die Internetradiostasie “Third Rock Radio” vanuit die Internasionale ruimtestasie, 306 kilometer bokant die aarde. "The Joe Show: New Rock from Space" se eerste optrede sal plaasvind om 22:00 SAT op Vrydag 3 Augustus.

Acaba, ’n aanhanger van klasieke rock, sal sy ondervindings op die ruimteskip bespreek terwyl hy tussendeur “new rock” aan die luisteraars rondom die wêreld sal aanbied. Die Joe-skou is ’n mengsel van wetenskap, tegnologie, ingenieurskennis, wiskunde en kuns. Dit versterk die nuutste tegnologie van musiek in die konteks van "exploring new worlds of music."

Ek is opgewonde om die eerste ruimtevaarder te wees om musiek uit te saai oor “Third Rock Radio”. Vanaf die opnames gelanseer op die Voyager ruimteskip tot die liedere gespeel om bemanning wakker te maak gedurende pendeltuigsendings, het NASA en musiek ’n lang geskiedenis saam. “As ’n gewese opvoeder, waardeer ek die sterk verbinding tussen musiek en wiskunde een van die kern STEM-komponente wat so krities is vir my werk as ruimtevaarder,” het Acaba gesê.

Om te luister na Third Roc Radio besoek: www.thirdrockradio.net.

Deel hierdie inligting mee aan jong persone naby aan jou. Hulle sal die pret geniet.

DIE ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIEWYSIGINGSKRIF – HOE GAAN DIT RADIOAMATEURS RAAK?

Die Departement van Kommunikasie beplan die stigting van ’n nuwe liggaam naas OKOSA om spektrumbestuur oor te neem. Een van die vele veranderings voorgestel in die Elektroniese Wysigingskrif van 2012 is die stigting van die Spektrumbestuursagentskap binne die portefeulje van die Minister van Kommunikasie met die oorhoofse verantwoordelikheid vir die land se spektrumbestuur soos voorgestel in die Witskrif oor itsaaibeleid, in 1998.

Die selfverduidelikende dokument aangeheg aan die skrif vermeld dat die Minister van Kommunikasie die bewaarder is van spektrum namens alle persone in Suid-Afrika. Dit meld verder dat die minister Suid-Afrika verteenwoordig by die ITU en dit sluit inter alia die toekenning van radiofrekwensiespektrum aan radiokommunikasiedienste, soos amateurradio in. Die minister is verantwoordelik onder die nuwe wet, wanneer goedgekeur, vir alle internasionale spektrumaangeleenthede aangewese op Suid-Afrika, insluitende streek= en substreekspektrumbeplanning, asook skadelike steurings en internasionale frekwensiekoördinering.

Die SARL-Raad is tans besig om die konsepskrif te bestudeer. ’n Afskrif is verkrygbaar op die SARL se webblad, volg die skakels op die hoofblad. Die dokument het 65 bladsye en is 3 Megagrepe groot. Radioamateurs word versoek om voor 15 Augustus kommentaar te lewer. Stuur u kommentaar aan secretary@sarl.org.za. Die finale datum vir kommentaar is 30 Augustus 2012.

BESPREEK NOU VIR DIE RTA IN GAUTENG

Besprekings is oop vir die Radiotegnologie-in-Aksie Simposium wat op 18 Augustus by die NARS gehou sal word. Volle besonderhede van die gebeurtenis is verkrygbaar op die SARL se webblad www.sarl.org.za.

U kan vooraf bespreek en deelneem aan ’n bygevoegde prystrekking vir die ARRL se boek “Basic Antennas”. As U ’n program verlang stuur e-pos aan rta@sarl.org.za met RTA NARC in die onderwerplyn en ’n PDF-afskrif sal per e-pos aan U gestuur word.

KLUBNUUS
Die Wesrand Amateurradioklub se Algemene Jaarvergadering het plaasgevind op 7 Julie 2012 en die volgende lede is tot die komitee verkies:

Voorsitter - Geoff Levey, ZS6GRL
Onder Voorsitter - Johan van Vuuren, ZS6JVV
Sekretaris - Phillip van Tonder, ZS6PVT
Tesourier - David Cloete, ZR6AOC

Addisionele lede:
Willem Weideman, ZS6WWJ
Romeo Nardini, ZS6ARQ
John Brock, ZS6WL
Rory Crouch, ZS6RBJ
Nick Dreyer, ZS6NCK
Noel Hammond, ZR6DX
Marinus Brand, ZS6BM

Die Centurion Amateurradioklub se algemene jaarvergadering het plaasgevind op die 14de Julie. Gedurende die vergadering is die volgende lede tot die komitee verkies:

Voorsitster : Pam Momberg, ZS6APT
Onder voorsitter : Gawie Basson, ZS6GJJ
Sekretaris : Billy Strumpher, ZS6WPS
Tesourier : Pam Momberg, ZS6APT

Gewone lede:
Pine Pienaar, ZS6GST
Ben Booysen, ZS6BTB
Rian Venter, ZS6RXY
John Longland, ZS6AA

KOMPETISIENUUS

IARU HF WÊRELDKAMPIOENSKAPPE

Hierdie wedstryd het op 14 en 15 Julie plaasgevind. Die SARL het vooraf besluit om aan hierdie wedstryd deel te neem met die roepsein ZS9HQ. Die GG-span wat deelgeneem het, was:
Vidi La Grange, ZS1EL, Raoul Coetzee, ZS1RE, Allan Smith, ZS1AAX, Joop Hesp, ZS6C, and Pierre van Deventer, ZS6A.

Die ESB-span het bestaan uit:
Nigel Burgess, ZR6NGB, Roy McKay, ZS6RLM, Noel Hammond, ZR6DX, Rikus Joubert, ZS6RIC, and Geoff Levey, ZS6GRL. Die ESB-span het vanaf die NARS deelgeneem behalwe Nigel wat die stasie vanaf sy huis bedryf het.

In totaal is 512 kontakte gemaak wat bestaan het uit 141 ESB-kontakte en 371 GG-kontakte. Daar is 116 hoofkantoorstasies gewerk oor die hele band. Die kommentaar wat terug ontvang is was dat die bande nie altyd saamgespeel het nie maar almal wat deelgeneem het, het die kompetisie geniet.

Baie dankie aan al die spanlede vir hulle tyd en ywer, dit word deur al die SARL-lede waardeer.

Die SARL se premierkompetisie sal gedurende die maand Augustus gehou word. Die SARL HF-kompetisie bestaan uit drie dele - die SARL HF foonkompetisie op Sondag 5 Augustus, die SARL HF digitale kompetisie op Sondag 19 Augustus en die SARL HF GG-kompetisie op Sondag 26 Augustus.

Die doel van die SARL HF-kompetisies is vir die deelnemers om kontak te maak met soveel moontlik radioamateurs in Suider-Afrika op 20, 40 en 80 meter, deur gebruik te maak van foon, digitale modusse en GG. Daar is 'n aantal van trofeë wat vir deelname in hierdie kompetisies gewen kan word. Die trofeë word oorhandig tydens die SARL se Toekenningsdinee.

Die SARL HF-foonkompetisie sal op die lug wees van 13:00 tot 16:30 UTC [15:00 – 18:30 SAT] op Sondag 5 Augustus met aktiwiteit op 14 125 tot 14 300 kHz, 7 060 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz en 3 600 tot 3 650 en 3 700 tot 3 800 kHz.

Deelname kan wees as a) Enkeloperateur Enkelband, b) Enkeloperateur Alle Bande, c) Multi-operateur Enkelband of d) Multi-operateur Alle Bande. Individuele deelnemers en klubstasies word aangemoedig om deel te neem. 'n RS-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer, wat by 001 begin, word uitgeruil.

Elke foon-QSO tel 1 punt, tel twee punte vir elke gebied (sien onder) op elke band en tel 2 punte vir elke stasie op al drie bande gekontak.

Die gebiede is - Area 1: ZS1 Wes-Kaap, Gebied 2: ZS2 Oos-Kaap, Area 3: ZS3 Noord-Kaap, Area 4: ZS4 Vrystaat, 5: ZS5 KwaZulu-Natal, Area 6: ZS6 Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes, Area 7: 3B8 Mauritius, 3DA Swaziland, 7P Lesotho, 7Q Malawi, C9 Mosambiek, Z2 Zimbabwe, 5R Madagaskar, FR Reunion-eiland en FH Mayotte en Area 8: 9J Zambië, A2 Botswana, D2 Angola, V5 Namibië, ZD9 Gough en Tristan da Cunha eilande, ZS7 Antarktika en ZS8-Marion-eiland. Kontakte met stasies buite hierdie gebiede word toegelaat en QSO-punte kan geëis word, maar geen sone of drie-bander punte kan geëis word nie.

Sertifikate word toegeken aan die eerste drie plekke en die hoogste enkele bandtelling in elke wedstryd. Daar is ook 'n trofee vir die hoogste gekombineerde telling in drie wedstryde.

Logstate moet teen Sondag 12 Augustus gestuur word aan die Bloemfontein ARK, Posbus 33211, Fichardtpark, 9317 of per e-pos te zs4bfn@netactive.co.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak laag is. Geen van die sonvlekke wat tans sigbaar is kan groot fakkels oplewer nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 55.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die laer sonaktiwiteit gaan 10 m openinge minder gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 Augustus – Ruimtevaarder Joe Acaba se uitsending, "The Joe Show: New Rock from Space" word uitgesaai vanaf die Internasionale ruimtestasie.
5 Augustus - SARL HF-kompetisie, 13:00 tot 16:30 UTC.
15 Augustus – Die Elektroniese Kommunikasie Wysigingskrif. Stuur u kommentaar aan secretary@sarl.org.za.
18 Augustus - RTA in Gauteng, bespreek nou om aan ’n bygevoegde prystrekking te kan deelneem.
19 Augustus - SARL HF digitale kompetisie
26 Augustus - SARL HF GG-kompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies, waarin radioamateurs en kortgolfluisteraars sal belangstel, in te stuur na www.sarl.org.za/newsinbox.asp Stuur dit - indien moontlik - in Engels sowel as Afrikaans, nie later as die Donderdag voor die uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Today", wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n spraakrepliekuitsending deur Dick ZS6RO. Besoek www.sarl.org.za vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS. Klik op 'Amateur Radio Today', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings wat nie op amateurfrekwensies uitgesaai word.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Johan Steyn, ZS4SS, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003